News

Grondbelasting: Nuwe ontwikkelinge

Grondeienaars wat nie grondbelastingaanslae ontvang het nie of wie se aanslae verkeerd is, kan per e-pos aansoek doen om dit te bekom. Vul die aansoekvorm in en stuur na Cuba.Katokele[at]mlr.gov.na. Die aanslag sal per e-pos aan die grondeienaar gestuur word.

Grondeienaars kan op dieselfde wyse hul NAMRA-kwitansie (bewys van betaling van grondbelasting) aan bogenoemde persoon e-pos sodat die ministerie van grondsake dit op hul stelsel kan opdateer. Vroulike grondeienaars kan aansoek doen vir kwytskelding van grondbelasting. Sodanige aansoeke kan ook na Cuba.Katokele[at]mlr.gov.na gestuur word vir evaluering deur die waardeerder-generaal.

Grondeienaars wat hul plase verkoop het en noodgedwonge alle grondbelasting moes betaal, kan ‘n aansoekvorm by die ministerie indien om geld wat te veel betaal is terug te eis. Enige ander grondeienaar wat om welke rede ook al te veel grondbelasting betaal het, kan die verskil aftrek van hul volgende grondbelasting-betaling. Alle bewyse moet aan die ministerie voorgelê word.

Grondeienaars wat reeds 2021-2022 en 2022-2023 se grondbelastingaanslae ontvang het (maar nie pertinent daarvoor aansoek gedoen het nie) kan die aanslae ignoreer. Dit sal eers volgende jaar uitgereik word vir betaling. Grondeienaars wat verafgeleë is en nie toegang het tot ‘n NAMRA-kantoor nie, kan ’n EFT (elektroniese betaling) doen en die betalingsbewys na die NLU-kantoor stuur (pa[at]nau.com.na). Die NLU-kantoor sal op sy beurt by NAMRA in Windhoek ‘n kwitansie vir die lid bekom en die bewys by die minister indien.

LET WEL: Hierdie diens is slegs vir NLU-lede in afgeleë gebiede wat nie maklik toegang het tot ’n NAMRA- of ministerie-kantore nie. Dié vergunning sal fyn gemonitor word deur die NLU.

(Bron: NLU se elektroniese nuusbrief, 2 September 2022)