Opinion

Rooivleisverslagting betree ’n nuwe landskap

Die Namibiese slagbedryf vir rooivleis is tans besig om ’n nuwe, opwindende landskap te betree met die toetrede van nuwe rolspelers en ’n vorige een wat terugkom. Die verhoogde deelname en kompetisie moet allerweë verwelkom word, want dit is hoe produsente verseker sal wees van die beste prys. Indien ’n paar goeie reënjare voorlê vir die herstel van kuddegetalle is daar plek vir die huidige en nuwe rolspelers om in die wêreld se toenemende sterk vraag na rooivleis te voorsien.

Die produsentbeheerde Savanna Beef Processors, die nuwe Wagyu-aanleg vir nisbemarking op Rehoboth (sien bl 12) en die skaapaanleg op Mariental beoog om voor einde vanjaar met verslagting te begin. Aanvanklik sal die twee beesvleis-abattoirs afskop met binnelandse bemarking in afwagting op die afhandeling van die nodige formaliteite om uitvoergeleenthede na winsgewende markte te benut. Farmers Meat Market se uitvoerstatus word einde September herstel en die plan is om voor einde vanjaar die eerste besending ontbeende skaap­vleis aan die Noorweegse mark te lewer.

Intussen slag Beefcor op Okahandja vol kapasiteit, ook op ­Saterdae, terwyl uitbreidings van sowat N$80 miljoen aan die gang is. In dié stadium lyk dit of Beefcor en die Beef Value Chain Forum/Savanna Beef Processors in die toekoms die oorsese beesvleis-uitvoermark sal oorheers tesame met die heelwat kleiner Wagyu-nismarkaandeel.

Teen hierdie tyd is dit alom bekend dat Meatco se agterstallige beta­lings van meer as 90 dae aan produsente finaal sy tol geëis het. Produ­sentevertroue kan eenvoudig nie herstel nie omdat hulle vir ’n te lang tydperk ontneem is van ’n inkomste, renteverdienste op hul geld of herbeleggings in hul boerdery. Dit is ook die rede waarom Meatco van twee slagdae tot die een per week (tussen 200 en 300 beeste) terug­gesak het. Volgehoue produsentepogings om op georganiseerde landbouvlak weer inspraak in Meatco-sake te kry het ongelukkig in ’n doodloopstraat beland.

Indien Meatco wel met regeringhulp uit sy finansiële verknorsing gaan opstaan, is die verwagting dat kommoditeitsbemarking in Afrika oor die langer termyn sy voorland sal wees. Dit sal ook goed wees om vir die noordelike kommunale gebiede volhoubare markte te vestig wat weens die risiko van bek-en-klouseersiekte nie mag uitvoer nie. In dié verband kan die regering oorweeg om in sy begroting voorsie­ning te maak vir ’n gesubsidieerde prys aan hierdie boere om hulle na­der aan die res van die land se produsenteprys te bring. Op dié manier sal hulle aangemoedig word om hul boerderye uit te brei en meer die­re te bemark tot voordeel van die land se vleisbedryf. Meatco se Afrika-besendings het Ghana en Angola reeds bereik.

Word abattoir-strukture van die verlede in oënskou geneem, blyk dit dat produsente-inspraak nodig is. Voordat die regering boere hul reg ontneem het om direksielede te nomineer en verkies, was Meatco hoofsaaklik winsgewend. Dieselfde is ervaar toe Farmers Meat Market destyds op ’n korporatiewe grondslag bedryf is voordat dit in die hande van ’n enkele sakeman beland het. Dit het uitgeloop op die uitbuiting van produsente wat weens die regering se uitvoerbeperking uitgelewer was aan Namibiese skaapabattoirs se lae pryse. Die tra­giese en onvermydelike gevolg hiervan was dat drie van hulle hul deure permanent moes sluit.

Daarna het Hartlief-groep Farmers Meat Market bekom om weer ’n skaapvleis-uitvoerabattoir op die been te bring tot voordeel van die land se vleisbedryf. Ongelukkig moes dié Mariental-aanleg weens die rampdroogte tydelik toemaak. Dié tydperk is egter sinvol gebruik om saam met die Lewendehawe Produsente Organisasie (LPO) ’n omvattende skaapstudie aan te pak om geleenthede in die waardeketting te ontsluit. Dié groep is ook bereid om produsente regverdig in wins te laat deel.

Net die toekoms sal ons leer wat werk die beste met die voorvereis­te dat die regering nie gaan inmeng nie – volle private besit (met of sonder produsente-inspraak) of volle produsentebeheer?